Ons sien sáám met jou uit na hierdie opwindende nuwe hoofstuk in jou lewe – om by een van die voorste universiteite in die wêreld te studeer! Die NWU is nét die plek om jou te omvorm tot die persoon wat jy bedoel is om te wees. Dis hier waar ons jou daarop voorberei om die vrugte van jou arbeid vir die res van jou lewe te pluk.
 
Die NWU is daartoe verbind om te funksioneer as ʼn unitêre, geïntegreerde, multikampusuniversiteit wat billikheid, herstel en globaal mededingende onderrig en navorsing oor al drie kampusse heen moontlik maak. Ons kernaktiwiteite, onderrig-leer en navorsing is vervleg met gemeenskapsbetrokkenheid en innovasie in ons agt fakulteite waarvan die meeste afstand- sowel as kontakstudente dien.
 
Ons vertel graag vir jou waarom die NWU se internasionaal erkende kwalifikasies so hoog aangeslaan word. Die NWU, tot stand gebring in 2004, is tans die tweede-grootste universiteit in Suid-Afrika. Die NWU bied meer as net ʼn opvoeding: ons bied aan mense ʼn plek in die wêreld. Ons akademiese aanbod bied aan studente ʼn groot keuse en buigsaamheid, en stel hulle in staat om hul volle potensiaal te verwesenlik en om te begin voorberei vir hul loopbane. Die onlangs gepubliseerde rangordening deur die “Centre for World University Rankings” (CWUR) toon aan dat die Noordwes-Universiteit inderdaad besig is om vinnig opgang te maak. Die NWU het bykans 100 plekke gestyg, wat beteken dat dit nou onder die top 5% van die meer as 18 000 geëvalueerde universiteite (wêreldwyd) is.
 
Deur samewerking met ander universiteite en instansies wêreldwyd is ons deel van die globale hoëronderwysgemeenskap. Ons internasionaliseringsaktiwiteite sluit in uitruilprogramme vir studente en personeel en samewerking in akademiese, navorsings-, kulturele en sportaangeleenthede.
Soos wat ons sing in ons Universiteitslied: “waar die wilgers welig spruit, doringboom sy skadu sprei, soos ons groei in kundigheid...”
 
Welkom by die Noordwes-Universiteit! Ons sien uit daarna om jou te ontmoet!