Beste Dame in Pienk

Dit is vir my aangenaam om jou by LaVaria-dameskoshuis te verwelkom – die enigste pienk koshuis op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit!

LaVaria is waarlik ʼn tweede tuiste waar ʼn individu se uniekheid gevier word en waar susterskap en ʼn sorgsaamheidsetiek aangemoedig word. Ons is trots op ons LaVaria-dames wat ons leuse, Eenheid in Verskeidenheid, uitleef. Ons dames kom van verskillende gemeenskappe en ons erken alle kulture by LaVaria.

By LaVaria is ons verbind tot die verryking van elke dame se universiteits- en studentelewe en tot die skep van geleenthede sodat elkeen op haar eie vlak kan presteer – terwyl sy aangemoedig word deur ʼn skare pienk susters.

Met trots en tradisie sedert 2006 is LaVaria nie bang vir kompetisie nie. Die koshuis se prioriteit is vir elke LaVaria-dame om haarself te wees. As een van die nuutste koshuise het LaVaria baie vordering en groei om op trots te wees. Ons hoef vir niemand terug te staan nie. LaVaria bied alle geleenthede wat aangebied word aan inwoners van kampuskoshuise. Ons moedig aktiewe deelname aan studentelewe-aktiwiteite aan om gestalte te gee aan dinamiese, dapper en sterk toekomstige vroulike leiers.

LaVaria bied aan dames die geleentheid om óf privaat te woon en deel te wees van LaVaria óf om van LaVaria se eie akkommodasie gebruik te maak. LaVaria-akkommodasie voldoen aan alle verwagtinge vir studenteverblyf, met dubbel- of enkelkamers, eenpersoonseenhede, studielokale, veilige ondergrondse parkering en 24 uur-sekuriteit. Die akkommodasie sluit ook ʼn verskeidenheid van ontspanningsgeriewe in soos ʼn swembad, braai-areas en ʼn gimnasium. Die akkommodasie is reg oorkant die kampus geleë – net ʼn paar treë van ʼn draaihek en ʼn hoofhek af.

Wanneer jy deel word van ons susterskap, word jy Pienk en word jy soos ʼn prinses behandel. Jou welstand, integriteit en selfbeeld is belangrik vir die koshuisbestuur en ons sal optimale ondersteuning bied waar nodig. Ons glo in uitnemendheid, wedersydse respek, eerlikheid, integriteit en openhartigheid.

Met ons oë gerig op God en geklee in pienk kan elke LaVaria-dame haar studentelewe met vertroue en lewensvreugde aanpak.

Weens my betrokkenheid as lid van die Universiteitsbestuurspan het ek vir Vincent Eastes en sy vrou Christel gevra om my by te staan met sommige van die verantwoordelikhede van huisouer en om seker te maak dat iemand altyd beskikbaar sal wees om te help wanneer nodig.

 

Eenheid in Verskeidenheid!

 

Dr Daryl Balia
Werk: 018 299 2601
Epos: Daryl.Balia@nwu.ac.za