Beëindiging van lidmaatskap van Vanderbijlpark-kampusstudenteraad

5 April 2024

Op 22 Maart 2024 het ʼn Dissiplinêreverhoorkomitee van die NWU – wat ingevolge paragraaf 3.1 van die NWU-handleiding oor Studentedissipline tot stand gebring is – 15 lede van die Vanderbijlpark-kampusstudenteraad (KSR) skuldig bevind aan wangedrag ingevolge paragraaf 72-76 van die Statuut en die Beleid oor Studentedissipline. Die uitkoms van die komitee se beraadslaging oor bevindings en strafmaatreëls is op 3 April 2024 afgehandel, en die KSR-lede is dienooreenkomstig ingelig.

Na die voltooiing van die voorgenoemde dissiplinêre prosesse, gelees in samehang met paragraaf 17.1.5 van die Institusionele Reëls oor Studentebestuur (IRSB 2023), is die lidmaatskap van 15 Vanderbijlpark-KSR-lede beëindig uit hoofde van die werking van die IRSB vanaf die datum waarop hulle oor die bevindings ingelig is. Gevolglik is daar nou 15 vakatures binne die Vanderbijlpark-KSR.

Die NWU is verplig om by sy eie beleide en reëls te hou, en daar is ʼn regmatige verwagting by NWU-belanghebbers – insluitend studente – dat die Universiteit dit sal afdwing. Gevolglik sal die NWU nou voortgaan om werk te maak van die bestaande vakatures, ooreenkomstig die IRSB, ten einde doeltreffende studentebestuur op die Vanderbijlparkkampus te verseker.

Die studentegemeenskap sal op hoogte gehou word soos wat vordering gemaak word in hierdie verband. Verdere navrae met betrekking tot Studentelewe-aktiwiteite en -programme kan gerig word aan die Kampusdirekteur: Studentelewe, mnr Chris Williams (55428606@nwu.ac.za).

Vriendelike groete


Prof Marlene Verhoef
Registrateur

Prof Sibusiso Chalufu
Uitvoerende Direkteur: Studentelewe