Dinki-dameskoshuis is die oudste damesdorpskoshuis op die NWU se Potchefstroomkampus en het dus ʼn trotse geskiedenis. Dinki is ʼn waardegedrewe koshuis wat op ʼn Christelike grondslag bedryf word. In Dinki gaan alles oor familie (susterskap), groei, absolute trots op alles wat ons doen, en hope pret.

Dinki is passievol oor alles wat ons aanpak en ons huiwer nie om groot drome te droom nie. Ons daag onsself uit en staan saam om ons drome te verwesenlik.

Ons kantoor en klubhuis is sentraal op kampus geleë. Die klubhuis is oop van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 14:00 en is ʼn miernes van aktiwiteit. Almal is welkom en tussen klasse gaan ons gereeld daar kuier en werk. Ons klubhuis is die hart van ons koshuis, omdat ons dames kan kies om van privaat akkommodasie gebruik te maak of om in ons pragtige koshuis net buite die kampus te bly.

Dinki-dameskoshuis gee aan elke dame die geleentheid om haarself te vind in ʼn koshuis met:

  • ʼn luisterryke tradisie;
  • ʼn trotse geskiedenis;
  • ʼn visie vir die toekoms; en
  • ʼn groep vriende met ʼn gevoel van eenheid.

Dinki se DOELWITTE is:

  • ʼn stylvolle beeld;
  • aktiewe betrokkenheid;
  • absolute trots; en
  • eenheid wat ʼn verskil maak.