In die somer van 1958 is die eerste senior dameskoshuis van die POK gestig deur prof Van der Merwe. Hy het Eikenhof-dameskoshuis vernoem na sy geboorteplek, die plaas Eikenhof. Die plaas het oorspronklik aan sy oupa, C.L. Neethling, behoort, wat eikelanings op die plaas aangeplant het. C.L. Neethling het dikwels vir sy kleinkinders verduidelik dat hy hierdie eikebome geplant het as ʼn simbool van krag en skoonheid.

In 1991 is Eikenhof opgerig as ʼn senior dameskoshuis van die POK. In 1992, na verstryking van die huurkontrak, het dit egter ʼn manskoshuis van die onderwyskollege geword. In 1993 het die POK die koshuis gekoop en het dit weereens ʼn senior dameskoshuis geword. In 2000 het Eikenhof, wat aanvanklik slegs derdejaar- en ouer studente gehuisves het, sy deure ook vir eerste- en tweedejaarstudente geopen. Eikenhof is reeds ʼn bekende juweel op die NWU se Potchefstroomkampus.

As die kleinste dameskoshuis op kampus, met slegs 134 enkelslaapkamers, is Eikenhof ʼn unieke en vriendskapsgeoriënteerde koshuis. Ons staan definitief nie terug vir die groter koshuise nie, want ons beskou elke dame as deel van die gesin en ons gun haar die ruimte om haar individualiteit uit te leef in haar nuwe tuiste, Eikenhof.

 

Visie

Eikenhof se visie is om ons kernwaardes – trots, eenheid, inisiatief, gretigheid en medelye – in te prent by al die Eikenhof-dames. Ons streef ook daarna om ʼn gevoel van eenheid te skep terwyl ons elke inwoner se individualiteit koester, soos wat ons leuse sê: “wees wie jy is”.

 

Missie

Eikenhof se missie is om ʼn omgewing in die koshuis te skep wat dit vir inwoners moontlik maak om ʼn gebalanseerde studentelewe te hê, d.w.s. die regte balans tussen akademiese prestasie, persoonlike lewe en koshuisdeelname. Ons streef daarna om ʼn dame te ontwikkel wat haar sê sê, inisiatief neem en haar kragte gebruik om ander te help terwyl sy deel uitmaak van ʼn eenheid en terwyl sy haar eie uniekheid ontdek en koester en gretigheid en medelye toon deur haar deelname en ondersteuning vir haar mede-Eikie-dames. Een van die belangrikste doelwitte is dat elke dame uiteindelik die koshuis verlaat as ʼn vrou wat haar volle potensiaal verwesenlik het en altyd is “wie sy is”.