Die woord ‘Laureus’ beteken “oorwinning” in Latyns. Daarmee tesame beteken Laureus manskoshuis se leuse, ‘Vicentius’, “deur die stryd”. Die simbool van Laureus Manskoshuis, die buffel, dien as inspirasie vir ons menswees en interne koshuis gees. Die Afrika buffel (Syncerus caffer) is 'n sterk, formidabele, gedugte en onvoorspelbare spesie. Hulle is 'n hegte, hoogs sosiale spesie wat leef volgens lineêre hiërargie. Die buffel is kuddediere van natuur wie se ongelooflike kameraadskap te siene is in die alombekende manier waarop hulle saamstaan en saam veg as 'n eenheid in tye van swaarkry en nood. Saam met my staan my trop, my mede buffels, my vriende, my broers. Soos een man. Een vir almal en almal vir een. Ons is daar vir mekaar, want ons is lief vir mekaar. 'n Hegte, formidabele eenheid wat vir niks en niemand terugstaan nie. Eendrag maak mag - Laureus Vicentius. 

 

Ons visie en missie

Laureus streef na n omgewing waar GOD geëer sal word. Sodat elke inwoner sy volle potensiaal kan ontwikkel en n invloed uitoefen van ewigheidswaarde.

Ons waardes

Waardes is beginsels of standaarde van gedrag wat 'n mens in jou daaglikse omgang met mense uitleef. Dit is 'n mens se oordeel van wat vir jou belangrik is in die lewe. Laureus het vyf kernwaardes wat ons daagliks in ons leefstyl inkorporeer om sodoende mans van inbors te wees, nl. integriteit, diensbaarheid, uitnemendheid, respek & broederskap.

 

Tesame met ons 5 kernwaardes, kry ons baie wysheid en insig uit die volgende vers:

Ps. 92:11 – “Maar vir my gee U krag soos die van ‘n buffel; U laat my ‘n oorwinningsfees vier”

 

Laureus Manskoshuis se belangrikste kernwaarde is ongetwyfeld broederskap. Ons beskou dus ons mede-inwoners as broers, ons is daar vir mekaar en ons is lief vir mekaar. Hier, by die huis van die groot en magtige buffel, glo ons dat 'n koshuis nie eenvoudig bekostigbare verblyf is nie, maar dat dit eerder n tuiste is waarin jy ingroei en van deel word. 'n Tuiste waar jy deel in die lief en leed en die goeie en swaar tye, van almal wat saam met jou die tuiste deel.

Geskiedenis

Laureus Manskoshuis is in 2001 gestig. Hoewel Laureus nog relatief jonk is in sy bestaan op die NWU Potchefstroomkampus, het daar al 'n hele paar van ons buffels die horison oorgesteek op soek na nuwe weivelde. In die begin het Laureus bestaan uit 'n koshuisgebou (Nou Ratau-Suid) en drie Wes-kampushuise. In 2004 is die drie Wes-kampushuise van die koshuis weggeneem en het Laureus die kleinste kampus-universiteitskoshuis in die Suidelike halfrond geword. Daar was toe slegs 81 inwoners. Laureus se inwoners het sedert Januarie 2012 tot Junie 2013 in Kom-en-Gaan tuisgegaan. Dit was 'n tydelike woning terwyl die splinternuwe koshuisgebou, wat nou 253 inwoners kan huisves, langs Kom-en-Gaan gebou is. Die eerstejaarsgroep van 2013 was die eerste groep in 12 jaar wat uit 'n rekordgetal van 90 bulletjies bestaan het! Dit is verbasend dat daar in slegs 13 bestaansjare so baie platinum stories die lig gesien het.

Dit is duidelik dat Laureus Manskoshuis deur God geseën word. Alle eer aan Hom.