Villagers is 'n dorpskoshuis (ons maak van privaatverblyf gebruik), maar ons funksioneer dieselfde as die kampuskoshuise en neem ook aan alle aktiwiteite deel. By Villagers sal jy net soveel deel van al die koshuisaktiwiteite as in enige ander kampuskoshuis.

Villagers-mansdorpskoshuis beleef tans 'n ongekende groeitydperk en jy is in die bevoorregte posisie dat jy die vrugte daarvan kan pluk. Ons koshuis het baie gegroei en gevorder en kan daarom saampraat met enige ander koshuis op kampus. Ons glo baie sterk in ons Christelike waardestelsel, maar handhaaf ook 'n baie gesonde balans tussen ons waardes, ons akademie (wat uiteraard die rede is hoekom ons in die eerste plek hier is), ons sport, kultuur, gemeenskapsprojekte en gesonde studentelewe.
 
Villagers Manskoshuis is tans een van die sterkste dorpskoshuise op die NWU Potchefstroomkampus. Ons kultuuraktiwiteite is in 'n sterk vorderingsfase waar ons elke jaar verbeter. Villagers se sport is ons groot sterkpunt, en ons behaal ons elke jaar goeie prestasies op die gebied. Enige persoon is welkom hier en sal hier inpas, al is dit slegs deur ondersteuning.
 

Hierdie voordele is egter net vir jou beskore indien jy BETROKKE raak en bly. Daar gaan nie 'n kamermaat wees wat jou gaan kom opklop en saamsleep na aksies toe nie – jy sal self moet besluit om by die koshuisaksies in te skakel, om saam met die manne by die klubhuis te kuier en gesels tussen jou klasse, of om na die rugby 'n bier in die klubhuis te gaan drink. Slegs jou eie betrokkenheid oor die drie tot vyf jaar wat jy op die Potchefstroomkampus gaan deurbring, gaan bepaal of jy jare later sal kan terugkyk met 'n glimlag op jou gesig as jy aan jou Villagers-dae dink. Gaan voluit daarvoor!

 

Visie

Om met uitnemendheid en trots ons dorpskoshuis te alle tye uit te bou en te bevorder sodat dit vir ander as voorbeeld sal dien.
 

Missie 

Met Christus as die hoof, poog ons om elke dag sterker, beter en groter te wees as die dag van gister. Ons sal die foute van die verlede gebruik om te streef na vooruitgang en 'n meer dinamiese koshuis op alle gebiede, vir nou en vir die toekoms.