"In 1961 is haar fondament gebou, Huis Republiek aan jou bly ons getrou" 

Hierdie is die woorde wat regdeur jou Universiteit loopbaan en koshuislewe jou hoendervleis gaan gee, jou uit volle bors gaan laat saamsing en jou gaan laat besef: "Hier is waar ek hoort".

Ons visie

Met lojaliteit teenoor en respek vir mekaar wil ons Huis Republiek se volle potensiaal bereik. Ons het passie, ons het trots en met inisiatief sal ons vorentoe beweeg, progressief, maar altyd met die nodige integriteit.

Ons missie

  • Die lewering van ‘n daadwerklike bydrae tot die bewaring, aktualisering en uitbouing van die norme en waardes van Huis Republiek en die Noordwes-Universiteit.
  • Die skep van ‘n gesonde godsdienstige-, akademiese-, sosiale- en multikulturele atmosfeer in die koshuis vir elke inwoner.
  • Die praktiese uitlewing en bevordering van waardes en eienskappe soos lojaliteit, eerbaarheid, gasvryheid, beleefdheid, betroubaarheid, aanvaarbare sosiale optrede, wedersydse respek en die ander doenwaardes van die NWU Potchefstroomkampus.

Die koshuis se leuse is nie verniet "Vroulikheid met 'n tikkie andersheid nie", hier is enige dame welkom en elkeen kan hul eie andersheid saambring. Die koshuis se embleem, die Toeternoelie, is 'n vryheidsvoël, wat diversiteit en uniekheid beteken, en weereens beklemtoon hoe elke Repie dame haar unieke self kan uitdruk.

Huis Republiek het 221 trotse inwoners, waarvan elkeen jou sussie, strooimeisie en sielsgenoot gaan word. Met lekker koshuistradisies en aksies soos Repieweek, Repie Rugby, Repie Basaar en vele meer, waaraan elke eerstejaar en senior deelneem, leer jy die ander 220 inwoners op 'n ander vlak ken...dis hier waar jy hulle andersheid leer ken, dis hier waar jou vlam vir Huis Republiek ontembaar is.
 
Ons is een van twee dameskoshuise op kampus waar jy van jou eerstejaar af in 'n enkelkamer kan woon, in een van ons agt gange: Allamapstieks, Aphrodite, Caritas, Femme Fatale, GenotGrot, Hunky Dory, Mirre en Welwitchia, elk met sy eie gang HK-lid wat elke inwoner se belange op die hart dra. Huis Republiek se voorkant is as 'n nasionale monumet verklaar, wat eie is aan ons. Huis Republiek is die tweede oudste koshuis op kampus en ons vier in 2016 ons 55ste verjaardag met 'n reünie. Kom wees deel van die uniekste, lekkerste en mooiste koshuis op kampus, en ervaar wat dit werklik beteken om student te wees!
 
Huis Republiek...met 'n positiewe houding, is alle laste lig!