Patria, Dié Huis op Kampus, is ‘n trotse koshuis met 258 manne. Tradisies en kultuur skep die basis vir ‘n Patriaan se unieke leefstyl wat wyd op die NWU-Potchefstroomkampus geken en gerespekteer word. Ons dra met trots die Albatros op ons bors. Patria het ‘n belangrike visie van broederskap, wat daarop sinspeel dat ons ons mede-inwoners as broers beskou wat by mekaar staan en vir mekaar omgee. Ons streef daarna om manne van ons woord te wees, wat doen wat ons sê, leef wat ons glo, en in als wat ons aanpak vas te hou aan dié Waarheid.

Visie

Patria is en wil bekend staan as:

  • 'n Uitstaande, karaktervolle en gehalte koshuis
  • Wat op Bybelse waardes en norme gegrond is
  • Wat diensgerig teenoor die inwoners en NWU-Potchefstroom-gemeenskap optree
  • Wat ten alle tye en omstandighede selfbeheersd, styl-en smaakvol handel
  • Wat akademiese voortreflikheid nastreef

Missie

Ons missie is om Dié Huis op kampus te wees en ons wil ons uitstaande en karaktervolle koshuis uitbou deur ons optrede. Ons meet ons gedrag aan 'n waardesisteem wat die koshuis self bepaal het en wat die volgende inhou:

  • Ons is 'n standvastige familie wat vir mekaar omgee en elke Patriaan dien sy koshuis met lojaliteit. Ons dra ons kentekens met trots, ons glo in ons koshuis en bo alles glo ons in God.
  • Ons stel betrokkenheid voorop, daarom neem ons deel en ondersteun ons alle positiewe en opbouende aktiwiteite.
  • Ons kompeteer op alle vlakke met 'n positiewe gesindheid en met deursettingsvermoë, doelgerig om die hoogste sport te bereik.
  • Ons stel respek en vriendelikheid hoog op die prys.
  • Ons erken elkeen se individuele verskeidenheid en ingeskape waardigheid.
  • Ons strewe daarna om elkeen tot sy volle potensiaal te ontwikkel om sodoende as selfstandige en dinamiese jong manne op alle lewensterreine 'n bydrae te kan maak.
  • Ons tree op in ooreenstemming met Christelike waardes en daarom ook met 'n vergewingsgesindheid eie aan 'n Christen. Waar 'n Patriaan struikel, wys ons mekaar weer op die regte pad.
  • Ons stel naasteliefde voorop.
  • Ons strewe na die handhawing van 'n gebalanseerde leefwyse soos vergestalt in ons Calvinistiese lewensbeskouing.
  • Ons glo in die beginsels van verantwoordelike bestuur uit hoofde van ons Rentmeesterskap hier op aarde.
  • Alles word egter nagestreef met 'n besef van die diepe afhanklikheid van God se seën oor ons huis.

 

- PATRIA IS ‘N LEEFWYSE -