Vergeet-My-Nie Dameskoshuis (VMN) is al sedert 1973 ‘n trotse deel van die studentelewe op die NWU Potchefstroom kampus en het van toe af al bo die res uitgestaan. Vergeet-My-Nie is ons huis weg van die huis af, ‘n plek waar ons, onsself kan wees en die plek waar ons vriendinne en herinneringe maak wat ‘n leeftyd sal hou. Hier groei ons saam, lag ons saam, en huil ons saam en smee in hierdie proses noue bande met mekaar. Vergeet-My-Nie se leuse is “Gaan vir Goud vir Hom” en elke inwoner word hierdeur aangemoedig om haar talente uit te leef en haar drome na te streef. Ons logo is die bekende VMN-blommetjie genaamd Kasparus. Kasparus knip-oog vir elke inwoner en besoeker wat haar drumpel betree. Die blommetjie is ook sinoniem aan die kultuur van vriendelikheid en omgee wat ons in die koshuis kweek.

Ons Visie

  • Vergeet-My-Nie streef daarna om gebalanseerde en selfstandige dames die wêreld in te stuur.
  • Lewenslange vriendinne word gemaak en waardevolle lewenslesse geleer.
  • Hier word dinamiese dames gekweek wat aanpasbaar is in ʼn veranderende wêreld. Hulle word toegerus om ʼn impak te maak waar ook al hulle eendag mag gaan.
  • Vergeet-My-Nie skep ʼn veilige vesting waar elkeen hulle volle potensiaal kan bereik.
  • Elke VMN-dame floreer in ons huis weg van die huis af.

Ons Missie

Vergeet-My-Nie, Vergeet-HOM-nie. Hierdie missie word aktief uitgeleef, beleef en bevorder deur die handhawing van die volgende kernwaardes:

  • Christenskap
  • Vroulikheid
  • Hoop
  • Verdraagsaamheid
  • Eerbaarheid
  • Beleefdheid
  • Betroubaarheid
  • Respek
  • Naasteliefde
  • Verantwoordelikheid

Die koshuis, as 'n eenheid saam, is 'n toonbeeld van volwasse en gebalanseerde studentegees, stylvolheid en gasvryheid en is 'n kampustuiste vir dames in die ware sin van die woord. Vergeet-My-Nie moedig van die eerste dag sy inwoners aan om altyd enige taak met oorgawe aan te pak, of dit nou ten opsigte van akademie of koshuisbetrokkenheid is. Hier kan jy jouself wees, jouself vind en jou studentelewe voluit leef. Elke uitdaging is ‘n geleentheid en as VMN’ers gaan ons altyd net vir goud! Vergeet-my-nie is nie net ‘n blyplek nie, dis ‘n leefwyse!