Over de Voor het in 1962 ontstaan en is amptelik geopen op 26 Maart 1963. Die koshuis is vernoem na Prof. Johannes (Joon) van Rooy, wat poste van kanselier, rektor en registrateur by die Universiteit beklee het. Vanaf 1994 staan die koshuis amptelik as Over de Voor bekend. Hierdie naam is nie ‘n nuwe skepping nie, die naam is nog altyd deur die studente gebruik. Die naam, Over De Voor, is verleen aan ‘n watervoor wat die koshuis van die res van die kampus geskei het in 1962. Over de Voor word gekenmerk deur sy roemryke tradisies en ‘n trotse geskiedenis. Die afgelope 53 jaar is daar verskeie prestasies opgelewer, van Nasionale Sportmanne, Springbok-rugbyspelers, Springbok-afrigters, Olimpiese-atlete, krieketspelers, top sake-manne, ministers en professors. Over de Voor is meer as net 'n lys prestasies. Overs is ‘n platform waardeur groot hoogtes bereik kan word, dis ‘n manier om jou te onderskei van die middelmatige. As jy anders as die massa wil wees en dink, is Overs vir jou. In Over de Voor is ons broers, opregte vriende wat naby aan mekaar lewe, sodat ons mekaar kan slyp en self geslyp kan word.

Over de Voor se leuse

Die koshuis se leuse is "VENI, VIDI, IVI". Dit beteken, "Ek het gekom, ek het gesien, ek het gegaan”. Die skepper van die leuse is Dries du Plooy. Die leuse verteenwoordig die verskillende aspekte van 'n student se lewe. Sedert 1992 gebruik die koshuis ook 'n nie-amptelike leuse. "NO GUTS, NO GLORY" en is 'n sprekende voorbeeld van hoe die inwoners van die koshuis elke uitdaging aanpak. Die koshuisembleem van die leeu het sy ontstaan in 1964.  

Visie

Over de Voor streef daarna om ‘n eiesoortige karakter te hê, anders tog eensgesind, gekenmerk deur uitnemendheid en om skeppend aanpasbaar te wees.

Missie

Over de Voor is ʼn dinamiese manskoshuis wat op Christelike waardes gefundeerd is. Over de Voor is ook ʼn koshuis wat deur geloof, broederskap, kameraadskap, trots en wedersydse respek, sy inwoners bemagtig sodat hulle kan presteer tot voordeel van die Universiteit, die gemeenskap en die koshuis. Verder, deur al ons optredes te poog om die leidende koshuis op kampus te wees.

Waardes

  • Netheid
  • Lojaliteit
  • Respek
  • Integriteit
  • Nederigheid
  • Verantwoordelikheid
  • Menswaardigheid
  • Uitnemendheid
  • Diensbaarheid