Kamers
Patria het dubbelkamers vir eerste- en tweedejaars, en enkelkamers vir derdejaars en ouer. Alle kamers is toegerus met ʼn bed, kas, lessenaar, stoel en genoeg pakplek. Elke kamer is ook toegerus met ʼn internetkoppelpunt (gratis, onbeperkte internettoegang), kragpunte, blinders en ʼn verwarmer.
Ander fasiliteite
Die Klubhuis, ook bekend as Club Albatross, is die hart van Patria se sosiale lewe. Dit is waar alle Patriane op Vrydagaande saamkuier vir die man-van-die-wedstryd-aankondigings vir al die wedstryde wat gedurende die week plaasgevind het. Die klubhuis word ook gebruik vir interne en eksterne aksies met dameskoshuise.
Die atmosfeer in die klubhuis is altyd gesellig en almal sing saam. Tussen al die gees, tradisies en die memorabilia deur kan mens nie help op nostalgies te voel nie. Die klubhuis het ook twee snoekertafels, ʼn tafelsokkertafel en pyltjies vir almal om te geniet. Die binnehof is reg langs die klubhuis. Vure word gereeld aangesteek by een van die vier braaifasiliteite wat beskikbaar is vir elke Patriaan, waar daar altyd ʼn gesellige atmosfeer heers.
Die Vierkant word ook gebruik vir sosiale aksies; dit staan nooit leeg nie. Patria beskik ook oor buitebraaifasiliteite, met ʼn grasperk wat perfek is vir agterplaassport. Patria het ʼn TV-kamer in elke gang, met die volle DSTV-pakket. Patria het genoeg storte, baddens, toilette en wasbakke. Hierdie fasiliteite is altyd in ʼn goeie toestand. Elke verdieping in die koshuis het twee kombuise en ʼn wasgoedkamer. Elke kombuis het ʼn wasbak en genoeg werkspasie. Inwoners moet hul eie kombuistoestelle bring. Kookwater sowel as koue water is te alle tye beskikbaar in die kombuis. Die wasgoedkamers is toegerus met ʼn wasmasjien, tuimeldroër en ʼn groot wasbak. Die Gebedskamer is ʼn vertrek waar elke Patriaan stiltetyd kan hê. Die kamer is 24 uur per dag beskikbaar en word ook gebruik vir Bybelstudiegroepe.
Die rekenaarlaboratorium het verskeie rekenaars met gratis internettoegang. Die musiekkamer is toegerus met ʼn klavier, sleutelbord, dromme en trofeekas, en is heeltemal klankdig.