Koshuismoeder: Christi Cloete 

Liewe nuwe Dinki-eerstejaar

Jy het nou al heelwat van die universiteitslewe gehoor en ek is seker die frase, “Jou universiteitsjare is die beste jare van jou lewe”, was een van hulle. En dit is alles waar! Jy staan op die drumpel van studentwees en nuwe dinge wag op jou. Jy is opgewonde, maar waarskynlik ook effens bang vir dit wat op jou wag.

Hier is ʼn plekkie vir elkeen, want in Dinki gun ons mekaar ʼn plekkie in die son. Ons bou mekaar op, dra mekaar en maak seker dat ons die mooiste en beste in mekaar uitbring.

Indien waardes en respek ʼn groot deel van jou woordeskat en menswees uitmaak, gaan jy sommer vinnig tuis voel. Hier mag ons van mekaar verskil, mits dit met respek gebeur. Dis juis ons andersheid en uniekheid wat ons ʼn kleurvolle koshuis maak.

Jy gaan vriendskappe smee soos nog nooit vantevore nie en daarom spits ons ons daarop toe om mekaar se beste eienskappe te ontwikkel. Hierdie is ʼn familie wat mekaar ondersteun, wat saamstaan en mekaar se eer en reputasie beskerm waar ons ook al gaan.

Dit is so ʼn voorreg om ʼn vrou te wees en daarom wil ons jou help om jou vrouwees, jou andersheid en jou talente te ontwikkel. Dit is ʼn plek waar ons mekaar help om elke liewe dag ʼn beter mens te wees as die vorige dag. Ons is ʼn vrolike klomp wat kan klets, lag, speel en grappies maak. Maar ons maak ook tyd vir die dieper en ernstiger dinge in die lewe. As ons speel, speel ons hard. As ons werk, werk ons hard. En deur alles deur streef ons om ons beste te gee en leef ons as dankbare jong vroue wat ʼn verskil in mekaar en diegene rondom ons maak.

Jou vrouwees is jou kroon. Jou woord is jou eer. Jou talent is van God en wat jy teruggee, is jou geskenk aan Hom. Hier eer ons God, mekaar en ook onsself.

Jou plekkie is gereed; ons wag vir jou!

Liefde,

Christi

 

Mrs Cloete Christi
Werk: 018 385 2763
Epos: Christi.Cloete@nwu.ac.za