VMN banner

Vergeet-My-Nie Dameskoshuis (VMN) is sedert 1973 'n trotse deel van die studentelewe op die NWU Potchefstroomkampus en sedertdien het dit homself van die res onderskei. Ons is bekend vir ons geel hoede op kampus wat ons ten alle koste sal beskerm. Vergeet-My-Nie is ons tuiste weg van die huis, waar ons onsself kan wees en lewenslange vriendskappe en herinneringe kan skep. Hier groei ons saam, lag saam, huil saam en smee ons noue bande met mekaar in hierdie proses. Vergeet-My-Nie se leuse is "Gaan vir Goud vir Hom," en hierdeur word elke inwoner aangemoedig om haar talente uit te leef, haar beste te gee en haar drome na te jaag. Ons logo is die bekende Vergeet-My-Nie-blom genaamd Kasparus. Kasparus knipoog vir elke inwoner en besoeker wat haar voordeur betree. Die blom is ook sinoniem met die kultuur van vriendelikheid en omgee wat ons in die koshuis koester.

Tradisies:

  • Vergeet-My-Nie is bekend vir ons geel hoede wat ons op kampus laat uitstaan.
  • Die geel hoede is ons grootste tradisie en verteenwoordig ons trots vir Vergeet-My-Nie.
  • Om ons waardering te toon, asook wanneer ons trots is op iemand in die koshuis, swaai ons ons geel hoede in die lug.
  • Ons geel hoede is gesog op kampus, maar moenie mislei word nie, ons sal hierdie hoede ten alle koste beskerm.
  • Ons het ook ons ​​eie "duikweg"-liedjie wat ons sing terwyl ons deur die "duikweg" spring.

Ons Visie

  • Vergeet-My-Nie streef daarna om gebalanseerde en selfstandige dames die wêreld in te stuur.
  • Lewenslange vriendinne word gemaak en waardevolle lewenslesse geleer.
  • Hier word dinamiese dames gekweek wat aanpasbaar is in ʼn veranderende wêreld. Hulle word toegerus om ʼn impak te maak waar ook al hulle eendag mag gaan.
  • Vergeet-My-Nie skep ʼn veilige vesting waar elkeen hulle volle potensiaal kan bereik.
  • Elke VMN-dame floreer in ons huis weg van die huis af.

Ons Missie

Vergeet-My-Nie, Vergeet-HOM-nie. Hierdie missie word aktief uitgeleef, beleef en bevorder deur die handhawing van die volgende kernwaardes:

  • Christenskap
  • Vroulikheid
  • Hoop
  • Verdraagsaamheid
  • Eerbaarheid
  • Beleefdheid
  • Betroubaarheid
  • Respek
  • Naasteliefde
  • Verantwoordelikheid

Die koshuis, as 'n eenheid saam, is 'n toonbeeld van volwasse en gebalanseerde studentegees, stylvolheid en gasvryheid en is 'n kampustuiste vir dames in die ware sin van die woord. Vergeet-My-Nie moedig van die eerste dag sy inwoners aan om altyd enige taak met oorgawe aan te pak, of dit nou ten opsigte van akademie of koshuisbetrokkenheid is. Hier kan jy jouself wees, jouself vind en jou studentelewe voluit leef. Elke uitdaging is ‘n geleentheid en as VMN’ers gaan ons altyd net vir goud! Vergeet-my-nie is nie net ‘n blyplek nie, dis ‘n leefwyse!