Kamers
Vergeet-My-Nie het 83 enkelkamers en 84 dubbelkamers waarin die 251 inwoners gehuisves word. In jou eerste en tweede jaar deel jy ʼn kamer met ʼn kamermaat. Die kamers is ingerig met twee beddens en matrasse, twee dubbeldeurkaste, twee lessenaars met stoele, ʼn aansteekbord, twee handdoekrelings, ʼn verwarmer vir die koue, twee internetpunte en ʼn bieper sodat mense in die foyer kan uitvind of jy in die kamer is of nie. Daar is ook blinders voor die vensters. Vanaf jou derde jaar kom jy in aanmerking vir ʼn enkelkamer, afhangende van jou koshuisdeelname en jou akademiese prestasie. Die enkelkamers is almal ingerig met ʼn bed en ʼn matras, ʼn dubbeldeurkas, ʼn lessenaar met ʼn stoel, ʼn aansteekbord, ʼn handdoekreling, ʼn verwarmer, ʼn bieper, ʼn internetpunt en blinders vir die venster.
Ander fasiliteite
Elke gang is toegerus met twee badkamers, elk met 2 toilette, 3 storte, 4 wasbakke en 1 bad. In elke gang is ʼn oopplankombuis en ʼn sitkamerarea. Elke kombuis het twee watersuiweraars (een met ʼn watertenk met koue en kookwater en nog een met slegs koue water) en ʼn dubbelwasbak. Daar is ook ʼn werkstasie waar jy kan kosmaak, met kragpunte teen die muur. Die kombuis en sitkamer word gedeel deur die 42 meisies wat in dieselfde gang bly. Die koshuis het 4 waskamers – 2 in elke blok. Elke waskamer het 2 wasmasjiene, 2 tuimeldroërs, 3 strykpunte en ʼn aantal droograkke. Die koshuis het ook ʼn groot woonkamer en ʼn rekreasiesaal. Die rekreasiesaal het ʼn klavier en ʼn televisie met DSTV.