Wag-'n-Bietjie: ʼn Kwessie van styl
Geskiedenis van hoe die koshuis gestig is, insluitend die datum
Wag-'n-Bietjie is gestig in Februarie 1974; ons vier dus ons 51ste bestaansjaar in 2025. Die koshuisnaam is afgelei van die Wag-'n-Bietjie-boom; net soos ʼn boom wat nie sonder sy wortels kan groei nie, kan ons ook nie groei sonder die dames wat die wortels help vestig het nie. Ons identiteit is gegrond op ʼn gevoel van trots, nie net vir wat ons nou probeer vermag nie, maar ook in die eer van ons geskiedenis. Ons streef daarna om die vroue wat Wag-’n-Bietjie hul tuiste gemaak het die kans te bied om by te dra tot die oomblikke wat ons hede definieer en om die herinneringe van ons verlede lewendig te hou.
Koshuisvisie
Om met selfvertroue te lei, gewortel in liefde en gelei deur lig terwyl eenheid en susterskap gekweek word.
Koshuismissie
- Om ʼn outentieke, veilige, diverse en prettige omgewing vir dames te skep, sodat hulle hul volle akademiese potensiaal kan bereik en die beste weergawe van hulself kan word.
- Om gedrewe, selfversekerde en bemagtigde dames te kweek wat ʼn impak het oral waar hulle gaan.
- Om susterskap te prioritiseer deur almal welkom en ingesluit te laat voel, maak nie saak wie jy is of waarna jy streef nie.
- Om ʼn platform vir groei te bied deur die eenvoudige plesier om deel te neem aan al die aktiwiteite waarvan jy hou.
Unieke kenmerke van koshuis
Wag-ʼn-Bietjie se gelukbringer is ʼn skilpad genaamd Gogga Jompie. Die skilpad simboliseer omgee, begrip en langdurige vriendskap.
Addisionele prettige feite
- Vingerhoede – Dit simboliseer dat Wag-’n-Bietjie jou huis is en dat jy nie nodig het om duim te gooi huis toe nie.
- Koshuisdans – Wag-’n-Bietjie het ʼn tradisionele dans wat gedans word waar ons ons ook al bevind. Hierdie dans gaan saam met Anton Goosen se liedjie: “Blommetjie gedenk aan my”. Wanneer hierdie liedjie speel, dans al die Wag-’n-Bietjie-dames in ʼn kring met die Huiskomitee in die middel van die sirkel.
- Skil van die week – Aan die einde van elke koshuisaksie word ʼn sagte speelding (skilpad) gegee aan die persoon wat ʼn snaakse storie van haarself het oor iets wat die vorige week gebeur het.
- Kat is weg – Hierdie tradisie vind plaas wanneer die Primaria weg is op ʼn skakeltoer. Gedurende hierdie week is daar allerhande prettige aktiwiteite. Die aktiwiteite wat plaasvind, word beplan en bepaal deur die Onderprimaria in oorleg met die Huisouer. Hierdie tradisie is gebaseer op die spreekwoord: “As die kat weg is, is die muis baas.”