Kamers
Wag-ʼn-Bietjie het 83 enkelkamers en 84 dubbelkamers waarin die 251 inwoners gehuisves word. In jou eerste en tweede jaar deel jy ʼn kamer met ʼn kamermaat. Die kamers is ingerig met twee beddens en matrasse, twee dubbeldeurkaste, twee lessenaars met stoele, ʼn aansteekbord, twee handdoekrelings, ʼn verwarmer vir die koue, twee internetpunte en ʼn bieper sodat mense in die foyer kan uitvind of jy in die kamer is of nie. Daar is ook blinders voor die vensters.
Ander fasiliteite
In elke gang is ʼn oopplankombuis en ʼn sitkamerarea. Elke kombuis het ʼn waterfilter, ʼn watertenk met koue en kookwater, ʼn dubbelwasbak en ʼn klein stofie met twee plate en ʼn oond. Die kombuis en sitkamer word gedeel deur die 42 meisies wat in dieselfde gang bly.
Die koshuis het 4 waskamers, 2 per blok. Elke waskamer het 2 wasmasjiene, 2 tuimeldroërs, 3 strykpunte en ʼn aantal droograkke. Elke koshuisinwoner het ten minste twee ure per week tyd om wasgoed te doen. Ander fasiliteite in die koshuis sluit in:
- Braai-area: ʼn Gesellige area buite die koshuis waar inwoners kan kuier en braai. Ons hou ook sosiale aksies in die braai-area, en soms koshuisvergaderings in die somermaande.
- Bidlokaal: ʼn Plek waar elke dame welkom is om ʼn bietjie rus en vrede te ervaar. Daar is ook dames wat Bybelstudies in hierdie lokaal organiseer.
- Die rekenaarlokaal: ʼn Lokaal met 5 rekenaars met onbeperkte internettoegang wat 24/7 beskikbaar is vir al die inwoners.
- Fietsloods: ʼn Veilige plek waar enige inwoner welkom is om haar fiets of bromponie te parkeer.