Voorberei om te lei

Salome Kelly Mofokeng is in 2019 as die jongste senior onderwysspesialis nóg by die Gautengse Departement van Basiese Onderwys (DBO) in die Sedibeng-Wes-distrik aangestel. Hierdie 28-jarige alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU) se werksetiek en leierskapsvaardighede is haar geheime bestanddele wat haar in staat gestel het om die korporatiewe leer teen so ’n eksponensiële pas te klim.
 
Salome het haar BEd-graad in 2013 verwerf, haar honneursgraad in Onderwysbestuur,  reg en -stelsels in 2016, en haar meestersgraad in Onderwysbestuur in 2019 – alles aan die NWU. Sy is tans vir haar PhD by die universiteit ingeskryf.
 
“Die basis vir my leierskap is tussen 2010 en 2013 vasgelê, toe ek met my voorgraadse studies besig was. Ek het die voorreg gehad om die bestuur van die universiteit te ontmoet, en ook om deel te wees van al die gesprekke wat bedoel was om studenteprestasie en die universiteit as geheel te bevorder. Ek het uit daardie ervaring geleer dat ek ’n onderrigbare gees het, in watter ruimte ek ook al werk,” sê Salome.
 
Voor haar aanstelling by die DBO het Salome as die hoof van die handelsdepartement by die Lebohang Sekondêre Skool gewerk. Sy het deur blote vasberadenheid daarin geslaag om die skool se swak handelsdepartement te transformeer deur die inskrywings- en slaagkoers van leerders te verhoog.
 
Sy het deur die jare talle toekennings vir uitnemendheid in haar studies en haar loopbaan ontvang. Sy het onlangs die silwertoekenning vir uitnemendheid in sekondêreskoolonderrig by die Nasionale Onderwystoekennings ontvang.
 
Salome beplan om haar indrukwekkende CV verder uit te bou. Sy wil haar PhD binne die volgende vyf jaar voltooi, en óf die akademie betree, of nader wees daaraan om die direkteur van assesserings by die DBO te wees.