Gemotiveerde Sonette laat haar stem gehoor word

Sonette du Preez is die verpersoonliking van iemand wat dinge laat gebeur. Hierdie 31-jarige voormalige trotse inwoner van Minjonet-dameskoshuis op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n lys toekennings wat haar ambisie weerspieël.

“Ek probeer altyd om in elke uitdaging wat oor my pad kom optimisme uit te straal,” sê sy, en dit is beslis sigbaar! In haar tyd by die NWU het Sonette in 2011 haar BSc Honneurs in Fisiologie voltooi, gevolg deur ’n MSc in Beroepshigiëne in 2013, ’n Nagraadse Onderwyssertifikaat in 2015, en ’n PhD in Beroepshigiëne in 2019. Sy het ook as primaria van Minjonet gedien en was in 2012 ’n lid van die Verteenwoordigende Studenteraad.

Sy is tans ’n senior lektor in Beroepshigiëne by die Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe aan die NWU en Sonnette toon nog geen tekens dat sy stoom verloor nie.

Sy is mal oor haar werk en die instelling wat vir haar net goeie herinneringe inhou. “Daar is te veel goeie herinneringe om van te kies. Herinneringe wat uitstaan, sluit in swem in die Calvyn, deelname aan Big Prims, en om die kans te kry om intervarsity in Bloemfontein by te woon, om die sêr te kan sien, en natuurlik die lang ure van studie in die NWU-biblioteek. Die grootste hoogtepunt vir my was egter dat ek deel van die Minjonet-dameskoshuis kon wees. Ek het ’n tuiste weg van die huis gehad en lewenslange vriende gemaak.”
 

Sonette was deel van die Top 20 Science Voices 2015 van die Mail & Guardian en ’n finalis in die LitNet Einstein-kompetisie van 2016. Sy het ook in 2019 die SAIOH se Beroepshigiëne Artikel van die Jaar-toekenning gewen.

 Sy huiwer nie om erkenning te gee aan die rol wat die NWU in haar sukses gespeel het nie. “Ek sal beslis sê dat die NWU my gehelp het om my interpersoonlike vaardighede te verbeter, wat ek meen een van die belangrikste vaardighede in die werkplek is. Die NWU het my gehelp om ’n emosionele bewustheid, bestuursvaardighede en redenasievaardighede te ontwikkel, en die universiteit het my geleer om met allerhande soorte mense om te gaan deur na hulle te luister, om te kommunikeer en om empaties te wees.”

Sonette beskryf haarself as “entoesiasties, toegewyd en gedrewe”, en met daardie eienskappe kan ’n mens jou net indink wat die toekoms vir haar inhou.