Albert Coetsee leef sy geloof uit

 

Doen alles so goed as wat jy kan tot eer van God en ter wille van ander. Dit is die leuse waarvolgens die 34-jarige Albert Coetsee leef, en dit is een wat hom goed te pas kom terwyl hy ’n loopbaan as vermaarde dosent in Teologie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) vir homself oopkap.

Albert het die skaars onderskeiding dat hy al sy grade – ’n totaal van ses – aan die Noordwes-Universiteit cum laude verwerf het. Hierdie grade sluit ’n PhD in Nuwe Testament in 2013 in.  

Sy tyd as student aan die NWU was vol vreugde terwyl hy die paadjie na sy roeping gevolg het: “My beste herinneringe is dat ek saam met my vriende kon studeer, lag en groei. Ek het my jare by die NWU terdeë geniet, en ek onthou dit met vreugde. Ek het ’n aantal jaar op die akademiese studentevereniging van die Fakulteit Teologie gedien, ook as voorsitter. Ek het dit geniet om aan verskillende sportsoorte deel te neem, eers vir my dorpskoshuis en later vir die fakulteit. My jare by die NWU het ’n groot invloed gehad op wie ek vandag is. Dit het my ook in staat gestel om die nodige vaardighede te verwerf vir die werk wat ek vandag doen.”

Albert is tans ’n senior lektor in Ou Testament aan die Fakulteit Teologie van die NWU en die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

“My werk behels die aanbied van ’n aantal modules vir kontak- en afstandstudente, die doen van navorsing, leiding aan nagraadse studente in hulle studies, en ’n betrokkenheid by die gemeenskap. Ek hou baie van die kontak met studente, veral om hulle te sien groei.”

Energiek, deeglik en vreugdevol, dit is Albert Coetsee. Dit is ook hierdie deugde wat hom gehelp het om in 2010 die Rapport Fakulteitstoekenning vir Inspirerende Opvoeding as die inspirerendste dosent in die Fakulteit Teologie te wen. Die toekenning het ook prysgeld van R50 000 ingesluit.

Sy resep vir sukses? “Harde werk, ’n wonderlike ondersteuningspan wat sy familie, vriende en kollegas insluit, om te geniet wat ek doen, en die genade van God.”