Harde werk word beloon

Die nege-en-twintigjarige Paul Sandamela heg baie waarde daaraan dat jy hard moet werk totdat jy kan sê dat jy die beste op jou gebied is.

Hierdie energieke prosesingenieur werk tans vir die Nasionale Raffinadery van Suid-Afrika (Natref). Paul het sy BIng-kwalifikasie (in Chemiese Ingenieurswese) in 2014 aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf.

Sy werk behels die monitering van en die versekering dat die alkileringseenheid binne die verlangde parameters werk. Sy hooffunksie is om te verseker dat die eenheid deurlopend funksioneer, en om enige onklaarraking te ondersoek wat in die eenheid kan voorkom.

“Ek is in 2017 by my huidige werkplek as die groentjie van die jaar (Newcomer of the Year) aangewys. Ek glo persoonlik dat dit nie moontlik sou gewees het as ek êrens anders studeer het nie. Die NWU het verseker dat ek die grondslag en beginsels verkry wat ek nodig het om my werk op die hoogste standaard te doen,” sê hy.

Paul is nie net passievol oor sy beroep nie, hy is ook ’n mentor vir jong ingenieurs en verskaf leiding aan hulle. Hy voorsien dat hy in die volgende vyf jaar nog meer jong ingenieurs sal bestuur. “Ek wil voornemende ingenieurs lei en hulle leer wat die waarde daarvan is om hulle werk perfek te doen en aan hulle die gereedskap daarvoor gee,” sluit Paul af.