Sentleeng staan beslis haar skoene vol

 
 “Ek skryf my sukses toe aan my gesin se deurlopende ondersteuning en my geloof in God,” sê die 31-jarige Sentleeng Lehihi. Sy het in 2010 as nagraadse student by die Noordwes-Universiteit aangesluit en het in 2012 haar honneursgraad in Politiek en Internasionale Betrekkinge met onderskeiding verwerf. 
 
“Ek het op die oomblik my grade in Joernalistiek en Politiek en Internasionale Betrekkinge, en benewens die erkenning wat ek op sosiale media vir my storie oor die brand verlede November gekry het, het ek tot dusver nog geen toekennings gekry of spesiale prestasies behaal nie.  Kom ons hoop dat daar êrens in die toekoms so iets voorlê,” voeg sy by.
 
Sentleeng werk as televisienuusverslaggewer by die SABC en ’n belangrike deel van haar werk behels die identifisering van en navorsing en verslagdoening oor stories wat billik, akkuraat en boeiend is om aan teikengehore te bring.
 
“Ek reis baie na uiteenlopende gebiede om nuuswaardige gebeurtenisse te soek, en ek netwerk ook met verskeie regeringsdepartemente, besigheids- en burgerlike organisasies, en met belanghebbers in die gemeenskap.” 
 
Sy beklemtoon die belangrikheid van navorsing, veral in joernalistiek. 
 
“Navorsing is van die uiterste belang, en as gevolg van my ervarings tydens my nagraadse studies, kan ek met gemak hierdie navorsing doen. Die wêreld verander die heeltyd, en as joernalis is dit my verantwoordelikheid om navorsing oor die veranderende wêreld te doen en dit vir die massas te vereenvoudig,” verduidelik sy.
 
Seentleng beklemtoon dat dit noodsaaklik is om beleidsformulering en aanpassing te verstaan, veral noudat ons ’n wêreldwye pandemie ervaar.
 
“Ons wêreldgemeenskap moes verdeel en na binne begin kyk as die beste vorm van verdediging, en dit gaan verreikende gevolge hê vir hoe ons gaan leef en sake doen.”
 
Toe sy gevra is waar sy haarself oor vyf jaar sien, het sy gesê dat hoewel die toekoms nie gewaarborg is nie, sy deur God se genade aan die voorpunt van die wêreldgemeenskap se grootste stories gaan wees. Dit is waarlik gepas vir iemand wat die woorde “swem of sink” gebruik om haarself mee te beskryf.
 
Met persoonlike slagspreuke soos “moet nooit moed opgee nie”, “baan jou eie weg”, “glo in jouself”, en “ek sal leef tot ek sterf”, het sy beslis ’n belowende toekoms voor haar.