Wouter se passie word ’n beroep

Die bekroonde sportjoernalis Wouter Pienaar streef daarna om die wese van sportlui en hulle sport in sy skryfwerk vas te vang.

Hierdie 28-jarige sportfanatikus het sy BA Hons in Kommunikasie (Joernalistiek) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf.

Wouter werk tans as sportjoernalis vir die Potchefstroom Herald, ’n plaaslike koerant in Noordwes.

“My werk behels alles wat met sport te doen het. Ek skryf oor sport in Potchefstroom, en dek ’n wye verskeidenheid individue, onderwerpe en spanne. Ek neem ook foto’s en video’s vir my stories in hierdie digitaal-gestimuleerde wêreld,” sê hy.

Wouter verduidelik dat die NWU ’n groot rol gespeel het om hom vir die korporatiewe wêreld toe te rus. Sy tyd by die universiteit het vir hom ’n aantal geleenthede geskep om nuwe mense te ontmoet en iets uit sy verskeie studiegebiede te leer. Hy is tot vandag toe in kontak met dosente wat in hom geglo het toe hy ’n student was. Die universiteit het ook vir hom die pad oopgemaak om met ’n graad in sy sak ’n loopbaan te betree.

Hy was deur die jare goeie kompetisie vir ’n aantal joernaliste en fotograwe. Hy het in 2016 die kategorie vir die beste sportfoto by die Caxton-toekennings vir uitnemendheid gewen, en in 2018 is hy by die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste se uitnemendheidstoekennings as die beste sportjoernalis aangewys. “Die jare toe ek nie met ’n toekenning weggestap het nie, was ek ’n finalis,” sê hy.

Hy sê dat hy in die volgende vyf jaar op ’n persoonlike en professionele vlak gelukkig wil wees, en vir ’n maatskappy wil werk of vryskutwerk wil doen sodat hy sy volle potensiaal kan benut. Indien die geleentheid hom voordoen, wil hy ook graag sy eie maatskappy hê en ’n sportbiografie of twee skryf.