Onderwys is nie net 'n werk vir Janha nie

Janha Scholtz, alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU), is die ware kombinasie van skoonheid en skranderheid. Hierdie 25-jarige, wat in 2015 as Mej NWU Vaal gekroon is, doen tans groot dinge in Asië.

Sy werk tans as ’n Engels-onderwyser in Hongkong. “Ek het die wonderlike voorreg om my dae deur te bring om vir kinders tussen die ouderdom van drie en 12 jaar Engels te leer. Dit bring vir my soveel vreugde in my lewe om te sien hoe my studente leer en hulle taalvaardighede verbeter,” sê Janha.

Sy het in 2017 haar BA Kommunikasie-graad verwerf, en in 2018 ’n BA Hons in Kommunikasie vir Maatskaplike Verandering, albei by die NWU. Sy sê dat die NWU ’n integrale deel van haar groei tot volwassenheid was. Dit het haar nie net akademies toegerus nie, maar ook vir haar lewenservaring gegee.

“My rol as Mej NWU Vaal in 2015 was een van die uitdagendste dog lonendste jare van my lewe. Ek het die geleentheid gehad om mense van uiteenlopende agtergronde met uiteenlopende wêreldsienings te ontmoet en by hulle te leer. Ek het waardevolle lesse oor myself en by elkeen van hierdie mense geleer, en ek pas vandag steeds hierdie lesse in my lewe toe,” sê sy.

Sy voeg by dat al die ervarings by die NWU vir haar die moed gegee het om uit haar gemaksone te beweeg, regoor die wêreld te trek, en ’n ander pad te volg as dit waarin sy aanvanklik studeer het.

Sy was op universiteit ook deel van die Golden Key International Honour Society. Haar grootste prestasie sedert sy gegradueer het, was om finansieel onafhanklik te word, haar horisonne te verbreed, en haar drome uit te brei.

Sy wil in die volgende vyf jaar graag terug wees in Suid-Afrika, en ’n loopbaan in die film- en televisiebedryf volg. Sy wil ook graag ’n gesels- of reisprogram aanbied.