Sigi is ’n internasionale sportster

Sigi Burger, ’n alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU), het bewys dat toewyding, harde werk en deursettingsvermoë die drie komponente is wat nodig is om suksesvol te wees. Die 24-jarige sportster woon tans in Londen, en is ’n professionele netbalspeler vir die London Pulse in die Vitality Netball Superleague.

“My werk behels opleiding, die speel van wedstryde, die bou aan die ondersteuningsbasis vir die London Pulse, asook om openbare optredes te doen en nou en dan hulle sosiale media te bestuur. Ek rig ook elke dag netbal by ’n plaaslike skool in Londen af,” sê Sigi.

Sy het in 2017 haar BCom-kwalifikasie in Ekonomie en Internasionale Handel aan die NWU verwerf.

“Die NWU het ’n belangrike rol in my loopbaan gespeel. Ek sou nie ’n lid van die Suid-Afrikaanse nasionale netbalspan – ’n SPAR Protea-speler – geword het en die dinge bereik het wat ek vandag het as dit nie was vir die ondersteuning wat ek van die NWU se Sportkantoor en die Suid-Afrikaanse nasionale netbalafrigter, Dorette Badenhorst, ontvang het nie,” sê sy.

Sigi het ’n lang lys sportprestasies. “Ek het die geleentheid gehad om in 2018 aan die Statebondspele en in 2019 aan die Netbal Wêreldbeker deel te neem. Ek is in 2018 aangewys as dat ek die hoogste doelgooigemiddeld in die Vitality Netball Superleague het,” sê sy. Gedurende haar tyd by die NWU is sy in 2016 as die NWU se Junior Sportvrou en in 2018 as die NWU se Senior Sportvrou aangewys.

Sy sê dat sy in die volgende vyf jaar op ’n persoonlike en professionele vlak geluk wil ervaar. “Ek wil ten minste twee seisoene lank in die Suncorp Super League in Australië speel, ’n Sky Sports-aanbieder wees, en gelukkig verloof wees,” sluit sy af.