Thato – ’n wetsgehoorsame burger

Thato Mashishi (27) het groot opgang in sy loopbaan gemaak sedert hy in 2016 sy BA Regte-kwalifikasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf het.

Hy werk tans as regskonsultant vir KPMG-regsdienste. Hy spesialiseer in samesmeltings en verkrygings, finansiëledienstereg, en algemene ondernemings- en handelsreg. “Ek verskaf ook spesialisondersteuning aan ouditeurs, vir wie ek advies oor ondernemingsreg vir genoteerde en ongenoteerde kliënte in verskeie bedrywe gee,” sê Thato.

Hy het deur die jare vir homself naam gemaak as buitengewone prokureur, as denkleier deur gereeld vir verskillende publikasies in die regsberoep te skryf, en as ’n mediapersoonlikheid deur sy kundigheid op verskeie radio- en televisiekanale en in die gedrukte media te deel.

In sy tyd by die NWU het hy ’n aantal leierskapsposisies beklee, maar waarop hy die trotsste is, is dat hy die voorsitter was van die Golden Key International Honour Society en die ondervoorsitter van die Regstudenteraad.

Hy sê dat die NWU ’n kritieke rol in sy loopbaan gespeel het. “Gedurende my derde jaar van studie het ek ’n klerkskap by een van die voorste internasionale sake- en litigasieregsfirmas gekry nadat ek by ’n NWU-loopbaanuitstalling van hulle gehoor het,” sê Thato.

Een van sy grootste prestasies tot dusver is dat hy onlangs sy meestersgraad in Ondernemingsreg verwerf het. Hy is van mening dat hy oor die volgende vyf jaar ’n meer senior posisie by KPMG sal beklee en as ondernemings- en handelsregprokureur kundige advies sal verskaf.