Vir hierdie regsghoeroe is daar geen grense nie

 
Sensitief, gehard en nadenkend. Dit is die drie woorde waarmee die 31-jarige Allison Geduld haarself beskryf.
 
Allison is ’n dosent in die Fakulteit Regte op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU). Sy bied die Regswetenskap- en Etiek-module aan, en die vernaamste deel van haar werk behels onderrig en navorsing.
 
Sy het verskeie kwalifikasies agter haar naam. Allison het in 2011 ’n LLB-graad, in 2013 ’n BA Hons-graad en in 2015 ’n LLM-graad verwerf, en sy het onlangs haar LLD-graad voltooi, wat sy meen haar grootste prestasie tot op hede is. 
 
Nog ’n prestasie vir haar was toe die Von Humboldt-stigting haar geborg het om drie maande lank by die Max Planck Instituut vir Regsvergelyking en Internasionale Privaatreg in Hamburg, Duitsland, navorsing te doen, en sy is gekeur om die finale jaar van haar LLB-graad by Tilburg Universiteit in Nederland te voltooi.
 
“Ek is baie dankbaar vir al die dosente wat deel was van my reis as student aan die NWU,” sê sy. “Hulle het my geïnspireer en die oortuiging vasgelê dat ek eendag sukses sal behaal.”
 
Toe sy gevra is oor haar betekenisvolste herinnering uit haar tyd as student, het sy genoem dat sy deel was van Amnestie Internasionaal se studente-afdeling en steeds die plakkaat het wat sy uit die Amnestie Internasionaal-tydskrif gekry het. “Hierdie plakkaat is vir my baie spesiaal, aangesien dit my herinner aan alles wat vir my belangrik is,” verduidelik sy.
 
Sy is van mening dat sy oor vyf jaar ’n akademiese loopbaan sal hê, en met haar persoonlike slagspreuk van “een dag op ’n slag” is daar geen twyfel dat sy hierdie doel gaan bereik nie.
 
Sy skryf ook haar sukses toe aan die ondersteuning wat sy van haar familie en vriende ontvang.
 
“Jy moet op die ou end dinge vir jouself doen, maar om iemand aan jou kant te hê wat jou laat glo dat daar ’n rede vir jou bestaan is en dat jy belangrik is, is van onskatbare waarde.”