Jonk, en druk reeds ’n stempel in MH af

Dit is inspirerend om tydens ons viering van Jeugmaand te sien hoe NWU-alumni hulle stempel op verskillende ekonomiese sektore en beroepe afdruk. Jy hoef nie verder te kyk nie as Innocentia Mphuthi, ’n kundige op die gebied van mensehulpbronne (MH) en mense, wat sê dit was ’n geval van liefde met die eerste oogopslag vir haar.

 “My werk behels ’n verskeidenheid algemene MH-funksies, insluitend om aan kliënte raad te gee oor MH-sake en werknemerverhoudings, met prestasiebestuur en vergoedingsadministrasie hulp te verleen, en natuurlik om topgehalte werknemers vir die NWU te werf en te keur.”

Sy het in 2012 ’n BCom-graad in Entrepreneurskap en Ondernemingsbestuur voltooi, in 2015 ’n BCom-graad in Bedryfsielkunde en Arbeidsverhoudingebestuur, en in 2018 ’n BCom Honneurs in Bedryfsielkunde – alles by die NWU.

Mphuthi sê dat die universiteit haar geleer het om die praktisyn te wees wat sy vandag is, en dat hulle haar voorberei het om in die toekoms selfs hoër in die beroep uit te styg.

 “My werk by die NWU het my interpersoonlike vaardighede verskerp en my gehelp om ook diversiteit te omarm,” sê sy.

 “My liefde vir die beroep motiveer my om eendag ’n gevestigde handelsmerk in die MH-beroep te wees. Ek kan my indink dat ek aan meer projekte en komitees kan deelneem wat daarop gemik is om ’n verskil in ons universiteit en samelewings te maak.”

Mphuthi is tans die voorsitter van die Jong Alumni-komitee, en beklee al leierskapsrolle sedert sy gehelp het om die Black Management Forum se studente-afdeling op die Vanderbijlparkkampus te stig. Sy het die afdeling as platform gebruik om by sosio-ekonomiese kwessies betrokke te raak.

Sy het ook netbal gespeel en die studentekoshuisafdeling gelei.

Mphuthi sê sy het goeie herinneringe aan haar jare as student.

 “My studentedae het daartoe gelei dat ek lief is vir hierdie plek, die studentelewe en akademiese opleiding op die gebied waarin ek nou werk.”

Ons voel dieselfde, Mphuthi!