’n Opkomende ster op die korporatiewe toneel

Tydens sy 2019-toespraak aan die eerstejaars het die NWU se visekanselier, prof Dan Kgwadi, gesê dat jongmense regoor die wêreld na vore tree, sterk staan en “die pad na ’n nuwe wêreld vir ons almal baan”.

Terwyl ons Jeugmaand vier, kyk ons na ’n inspirerende jong persoon wat so na vore tree: NWU-alumnus mnr Tutu Kgobane.  

Dit is geen wonder dat die bruisende Tutu, sedert hy by Vodacom – een van die land se grootste telekommunikasiemaatskappye – aangesluit het, ’n deelnemer aan die gesogte Vodacom Discover Graduates-program geword het nie. Hy is daarna as die program se ambassadeur gekies en is as een van die topvier in die innoverende Vodacom-somerveldtoguitdaging aangewys.  

Tutu beskryf homself as ’n energieke doener en ’n harde werker en sy leierskapstalente het ’n platform gekry toe hy in 2015 as die sekretaris van die universiteit se Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) gekies is. Hy het toe as voorsitter vir die Mahikengkampus en sekretaris-generaal van die NWU se institusionele VSR die leiding van die studentestruktuur oorgeneem.

Tutu het nie sy ambisieuse en avontuurlustige dryfkrag aan bande gelê nie en sy sportuitsendingsdebuut as die amptelike NWU Varsity Sport se sokker- Mahikengkampus gemaak, ’n rol wat hy twee jaar ná mekaar beklee het.   

Hoewel hy altyd nog vir alles kans gesien het, glo hierdie BCom Bemarkingsbestuur Honneurs-gegradueerde dat sy talente meer geskik is vir die korporatiewe wêreld as die klusterspesialis vir die Gauteng-streek by Vodacom se hoofkantoor.

“My werk behels basies om verkope en die gebruik van Vodacom-produkte en -dienste regoor segmente en kanale te bevorder om verkoopteikens of -kanale in die streek te bereik,” sê Tutu.

Toe hy gevra is waar hy homself oor vyf jaar sien, het dit geblyk dat Tutu se ambisie nog geen tekens toon dat dit afneem nie. Tutu, wat ten spyte van sy vol program ’n passievolle motiveringspreker is, wil nog ’n groter platform hê om sy saak te stel terwyl hy na die senior bestuursvlak in die handelsmerk- en bemarkingsruimte op pad is, en hy wil ook ’n MBA voltooi. Benewens hierdie loopbaandoelwitte wil hy ’n stigting loods wat jongmense sal bemagtig om verder as hulle huidige uitdagings te kyk en van ’n blinker toekoms vir hulleself te droom.

Tutu waardeer die ondersteuningstruktuur wat nog steeds sy ambisie en strewe ondersteun om meer te doen, en gee erkenning aan God, sy familie en vriende wat nog altyd vir hom rigting in sy lewe gegee het.

Die NWU was ook ’n krag wat hom gevorm het. “My betrokkenheid by die talle fasette van die studentelewe by die NWU het aan my leierskapsvaardighede gegee en my in staat gestel om lewensegte kwessies meer doeltreffend en op ’n breër grondslag aan te pak,” sluit Tutu af.

Prof Dan sal beslis trots wees op hierdie jong ligdraer van ’n nuwe toekoms, “wat hom vir ’n planeet beywer wat in vrede deur almal gedeel word”.