NWU-alumnus is hoog aangeskrewe in die beleggingsbankbedryf


Die beleggingsbankentrepreneur en hoof- uitvoerende beampte by Leza Private Equity, Nkateko Khoza, skryf die vaste grondslag wat hom op koers geplaas het om een van die opkomende figure in sy bedryf te wees – veral in ontluikende maatskappye – aan die Noordwes-Universiteit toe.

“Die BCom-graad wat ek in 2010 aan die NWU voltooi het, het my met die basiese kennis in finansiële bestuur, risikobestuur, beleggingsbestuur en strategiese bestuur toegerus,” sê Nkateko.

Hy het in 2010 met ’n BCom in Ekonomie en Risikobestuur aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark gegradueer. Hy het ook ’n honneursgraad in Finansiële Bestuur van Rhodes Universiteit en ’n MBA van Wits Universiteit.

Sy primêre fokus as beleggingsbankier is beleggings in opkomende maatskappye, beleggingsbanksake, eiendomsbatebestuur en die ingenieursektor.

Nkateko, wat steeds in die jeugkategorie val, was reeds die HUB by Nessa Engineering Africa, Rapx Engineering en LH Davhuli Technologies (Edms.) Bpk., en ’n uitvoerende verkoopsbeampte by Oracle Corporation.

Nkateko was tot op hede betrokke by die stigting van verskeie beginnerondernemings, in die besonder Ivanta, wat in verskeie lande regoor die Afrika-vasteland bedryf word. Hy dien ook op die uitvoerende rade van verskeie maatskappye.

Hy sê dat hy steeds goeie herinneringe aan die Vanderbijlparkkampus het.“Die kampus is pragtig en uniek, en ek sal nooit die eende vergeet nie.”

Nkateko skryf sy sukses toe aan harde werk en ’n goeie ondersteuningstruktuur.

Nkateko, wat altyd gereed is om ’n belegging in sy loopbaan te maak, sien homself in die afsienbare toekoms as die leier van Suid-Afrika se heel grootste IPO.