Shaah, die jongste NWU-gegradueerde

Die Noordwes-Universiteit-alumnus Shaah Ahmed Ismail Bootha het bewys dat ouderdom net ʼn nommer is.
 
Die ambisieuse en pragmatiese geoktrooieerde rekenmeester het op 15-jarige ouderdom gematrikuleer.  Hy het die jongste NWU-gegradueerde geword nadat hy onderskeidelik in 2010 en 2011 die grade BCom Geoktrooieerde Rekenmeesterskap en BComHons Finansiële Rekeningkunde aan die NWU verwerf het.
 
Die 27-jarige finansiële bestuurder beskou die NWU as die eerste mylpaal van sy reis om as ʼn CA(SA) te kwalifiseer. Hy het nie net as die jongste CA(SA) in Suid-Afrika gekwalifiseer nie, maar sy naam verskyn ook op die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters se Top 10-ererol.
 
Hy werk tans as finansiële bestuurder en rapporteer direk aan die groep hoof finansiële beampte by C. Steinweg Bridge, ʼn multinasionale verskepings-, pakhuis- en logistieke maatskappy.
 
“Ek is betrokke by groepsfinansies vir Afrika suid van die Sahara, wat ons bedrywighede in Suid-Afrika, Malawi, Mosambiek, Tanzanië, Zimbabwe en Zambië ondersteun. My rol behels skakeling met verskillende besigheidseenhede om toe te sien dat voldoende finansiële verslagdoening en begrotings, risikobestuur en nakoming binne die groep gehandhaaf word. Ek koördineer ook met die finansiële span van ons moedermaatskappy in Nederland,” sê Shaah.
 
In die volgende vyf jaar beoog hy om uit te blink in sy loopbaan en ʼn meer senior leiersrol te verwerf.